www.landbou.com, Amelia Genis, 15 Mei 2015

Wes-Kaapse boere plant “in die stof” in die geloof dat dit binnekort sal reën, dog die digitale weervoorspellers wys net mooiweer, met ’n wolkie hier en daar.

Mnr. Cobus Bester van die UD Boerdery, Moorreesburg, sê hulle het die afgelope agt maande nog nie noemenswaardige reën gehad nie: “September was die laaste reën. Daarna was dit somer. Die somer was nie so warm nie. Dít was die eerste teken dat dinge nie normaal is nie. Februarie was koel, en dis mos nie reg nie.”

Maar hulle het begin plant, al is die grond hard en die slytasie op die planter hoog: “Ons plant om klaar te plant. Dit gaan maar stadig. Die trekker loop net 5 km/h.” Tog sê Bester hul toewyding aan minimumbewerking en ’n wisselboustelsel met koring en medics werp vrugte af. “Die struktuur van die grond is beter. Die kluite is nie meer so groot nie.”

Hy sê dis nie asof hulle verby saaityd is nie, maar hoe later hulle plant, hoe meer groeipotensiaal loop hulle mis, veral as dit in September ophou reën. Hy meen ’n jaar soos hierdie kan ’n toets vir boere se toepassing van alle beginsels van bewaringsboerdery wees.

“Dié tyd het ons al meer as 100 mm reën gehad. Nou het ons September laat reën gehad. Die grond is baie droog.” Grobbelaar sê hy wil nie later as 10 Junie saai nie, maar dan moet dit nog tot in September reën om ’n gemiddelde oes te kry. “Maar ons weet mos almal ’n gemiddelde oes is nie genoeg nie.”

Hy gaan maar wag vir die reën voor hy saai. “Dis nog nie laat nie. Die hele Mei is saaimaand.” Volgens hom is Junie nie te laat vir koring, lupiene, voerhawer en voergars nie, maar hy meen dis neusie verby vir kanola in sy omgewing. Hy het klaar gesaai, maar “dit is droog,” sê mnr Adriaan Steyn van die Wankie-boerdery by Swellendam.

Al sy kanola, gars en koring het opgekom. Hy meen toewyding aan bewaringsboerdery sal vanjaar baie help, veral omdat hulle nie soos vorige jare somerreën gehad het nie. Hy voeg by: “Onthou net, in 2009 het dit eers in Junie gereën. Toe het ons ’n 3-ton-oes afgehaal met 150 mm reën.”

Suid-Kaap

Dele van die Suid-Kaap is bitter droog, maar mnr. Michel Gildenhuys van die plaas Môrelig, Heidelberg, sê hulle was vanjaar gelukkig. Eers het hulle 26 mm donderweerreën in Februarie gekry.

Dié reën het hul weidings ’n hupstoot gegee en hulle oor die voerdroogte van Februarie en Maart gehelp. Voordat hulle in April geplant het, het hulle 25 mm tot 30 mm reën gehad. Die kanola, gars en koring het sedertdien mooi opgekom en die stand is goed.

Reën was laat

Mnr. Driecus Lesch, Kaapse koringteler van Sensako op Napier, sê as hy reg onthou, was die reën verlede jaar ook ’n bietjie laat in die Swartland. Ten spyte daarvan het koringkultivars, soos SST 0127 en SST 087, met ’n mediumlang groeityd, die beste gepresteer.

Hy sê kultivars reageer op omgewingstoestande, soos die hoeveelheid en verspreiding van reën en die temperatuur. Sensako dui nie meer dae tot blom/oes van kultivars aan nie, slegs die groeityd, en dit het die afgelope paar jaar met 10 tot 12 dae verskil.

“Elke kultivar word oor ’n tydperk van sowat 12 jaar ontwikkel. Tydens dié tyd word kultivars aan wisselende seisoene blootgestel. Net kultivars wat oor jare die beste by die meeste omgewings aangepas is, word beskikbaar gestel.” Aangesien die verloop van ’n seisoen onvoorspelbaar is, beveel hy aan dat boere ’n “pakket” van verskillende kultivars plant om die risiko te versprei indien reën aan einde van seisoen vroeg “afsny”. “Die grootste probleem is as in vogtige grond geplant word en die reën bly weg. Die stoelvermoë, aantal halms, siektedruk en opbrengs van plante wat dan opkom, word benadeel.”