www.landbou.com, Nico van Burick, 15 Mei 2015

Vir elke ton mielies wat geproduseer word gaan drie ton grond verlore en Suid-Afrikaners besef nie die erns van die situasie nie.

Só waarsku Dr. Hendrik Smith, koördineerder van bewaringslandbou by Graan SA. Hy het by ’n Nasie in Gesprek-pannelbespreking by die Nampo-oesdag gesê ’n ramp wag as die agteruitgang nie gekeer word nie. “Gelukkig is daar oplossing om die agteruitgang te stuit deur bewaringsboerdery, maar tyd is van die uiterste belang. Ons het net tussen vyf en 10 jaar tyd om die situasie om te keer”

Hy sê die Verenigde Nasies het bereken wêreldwyd gaan daar nog net vir die volgende 60 jaar bewerkbare grond oor wees as erosie nie gestuit word nie. Sowat 12 miljoen ha se grond gaan jaarliks wêreldwyd verlore.

Die oplossing lê daarin om die grond so min as moontlik te versteur, met spesiale planters direk in die grond te plant en ook die grond met ’n deklaag van organiese materiaal of dekgewasse te beskerm. Smith sê in die Wes-Kaap pas 70% tot 80% een of ander vorm van bewaringslandbou toe, in KwaZulu-Natal is dit sowat 50% maar in die res van die land nog net tussen 10% en 20%.

Mnr Boeta du Toit, uitvoerende hoofbestuurder van Agri Noordwes, het ook oor grond as hulpbron gepraat en gesê waar in 1970 daar vir elke mens in die land 5.5 ha beskikbaar was waarvan 0.6 ha bewerk kon word, het dit nou afgeneem na 2.4 ha waarvan net 0.3 ha bewerkbaar is.