www.landbou.com, Carien Kruger, 09 April 2015

Boere sal tydelike werkers wat meer as drie maande in hul diens is, se lone moet verhoog.

Tydelike werknemers wat op 1 April vanjaar reeds drie maande vir iemand gewerk het, moet nou dieselfde voordele as heeltydse werknemers geniet.

Hoewel seisoenwerkers op plase hiervan uitgesluit is, geld dit enige ander tydelike of kontrakwerkers op plase, sê me. Elize van der Westhuizen, senior bestuurder van arbeidsverhoudinge by Agri SA.

As ʼn boer byvoorbeeld iemand vir ʼn projek kontrakteer, soos om ʼn dam op sy plaas te bou wat langer as drie maande duur, sal die boer die werker dieselfde soort vergoeding en voordele as sy heeltydse werkers moet bied.

Die nuwe bepaling is deel van wetswysigings aan die Wet op Arbeidsverhoudinge, wat op 1 Januarie in werking getree het en dus drie maande later, vanaf 1 April geld vir diegene wat sedert 1 Januarie tydelike werkers was.

Van der Westhuizen sê dit is baie belangrik dat boere se kontrakte met seisoenwerkers reg opgestel is omdat arbeidsinspekteurs gewoonlik baie nougeset by die letter van die wet wil hou. Die kontrak moet meld dat dit vir seisoenwerk is, wat die tydperk van werk is, en watter werk die persoon gaan doen.

Die vrystelling van seisoenwerkers in die landbousektor is danksy ʼn taakspan van Besigheidseenheid Suid-Afrika (BUSA), waarvan Agri SA deel was, wat geargumenteer het dat die meeste boere nie kan bekostig om werkers wat in oestyd vir hulle werk, heeltyds aan te stel nie, en dat seisoenwerk dikwels langer as drie maande duur.

“Skeerders werk dikwels tot nege maande vir diensverskaffers om boere se skape te skeer.”

Sy sê nog ʼn wetswysiging waarvan baie boere nie weet nie, is dat gelyke vergoeding vir werk van gelyke waarde betaal moet word.

Dit is kragtens ʼn wysiging aan die Wet op Gelyke Indiensneming wat in Augustus verlede jaar in werking getree het. Dit beteken byvoorbeeld as ʼn boer ʼn man wat vrugte pluk, meer betaal as ʼn vrou wat ook vrugte pluk, die vrou die boer kan aankla.

“Die boer sal dan moet met bewyse moet kan regverdig waarom hy die man meer betaal. Aanvaarbare kriteria sluit langer diens, beter kwalifikasies, en ʼn werker se prestasie in.”

* Vir navrae, kontak Van der Westhuizen by elize@agrisa.co.za