www.landbou.com, Marleen Smith,15 Mei 2015

Ten minste een bank het aangedui dat hy die Regering voor die Grondwethof kan sleep as mnr. Gugile Nkwinti sy 50/50-grondherverdelingprogram sou deurvoer.

Mnr. Jannie de Villiers, Graan SA se uitvoerende direkteur, het op die Nampo-oesdag gesê dít het uit hul samesprekings met banke Woensdag op die Oesdagplaas geblyk. De Villiers het verduidelik dat die meeste plaasgrond in Suid-Afrika verpand is.

Die syfer wat hulle vanaf banke gekry het, is meer as 60%. Landbouweekblad verneem egter van ’n ander ekonoom dat dit eerder in die orde van 90% is. Dit sluit dus die grootste deel in van die grond wat Nkwinti in sy 50/50-plan teiken.

As grond met ’n bank-verband sonder billike vergoeding vir herverdeling onteien sou word, kan dit die bank noop om dit in die Grondwethof te betwis. De Villiers is bekommerd dat honderde sulke sake groot regskoste sal meebring, terwyl regeringgeld eerder broodnodig is om suksesvolle swart boer-vestiging en voedselsekerheid te verseker.

“Voedselgeld gaan vir hofgeld gebruik word,” het De Villiers gesê. Hy het daarop gewys dat arm mense se eerste behoefte kos is, en nie om grond te besit nie. Benewens die feit dat so ’n groot deel van Suid-Afrikaanse plaasgrond ’n verband op het, produseer rondom 83% van ons boere kos met produksielenings.

As die 50/50-voorstel in werking gestel sou word, sal dit letterlik beteken 83% van ons boere sal nie meer vir produksielenings kwalifiseer om kos vir die helfte van die land te produseer nie. En benewens die koste van grootskaalse voedsel-invoere, is ons infrastruktuur nie gerat nie om sulke groot hoeveelhede kos in te voer nie, het De Villiers gesê.

Hy het ook benadruk dat Graan SA voluit ten gunste van grondhervorming is, maar dat beide Nkwinti se planne – die 50/50-voorstel en grondplafonne – nie haalbaar is nie.